Op 11 Januarie 1981 het Die Gereformeerde Kerk Klerksdorp-Noord afgestig van
die twee gemeentes Klerksdorp en Klerksdorp-Wes.
Plot 76 in die woongebied Wilkoppies word op 5 Maart 1981 aangekoop. Nadat ‘n groot
erf uitgehou word vir die pastorie en die
kerkgebou
word die res van die perseel in ses woonerwe verdeel en verkoop om die eiendom te
betaal. Die drome van ‘n eie kerkgebou word ‘n werklikheid.
Mnr. Hennie Vermooten is as argitek aangewys. Grobbelaar bouers van Pretoria
was die boukontrakteur.
Op 24 September 1984 is die hoeksteen van die kerkgebou deur ds. J.J Cloete onthul
en op 27 April
1985
is die kerkgebou met 343 sitplekke, ‘n aaneenskakelbare saal met 209 sitplekke,
‘n moederskamer, wiegkamer, katkisasielokale, konsistorie en kombuis, met dankbaarheid
in gebruik geneem. Pragtige kameeldoringbome omring die kompleks.
‘n Allen digitale rekenaarorrel is geïnstalleer. Die kanselbybel is deur
die Strydom-susters van Vryburg geskenk en die kanselstoel deur Tannie Marie Van
der Merwe (90) – tans die oudste lidmaat in die gemeente. Die preekstoel is
deur Oom Wally van Hoving plank vir plank eiehandig voorberei en gemonteer.
Die kanselkleed rond alles mooi af en die simbole daarop stuur die volgende boodskap
aan elkeen van ons: God sal Sy Koninkryksaad laat ontkiem en beskerm van begin
tot einde, en die vlamme van geloof sal deur die Heilige Gees al hoër en sterker
in ons harte brand.
|